Job 7:2-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Soos ’n slaaf wat hyg na die skaduwee, en soos ’n dagloner wat wag op sy werkloon,

3. so het ek erfgenaam geword van maande van teleurstelling en is nagte van moeite vir my bestem.

4. As ek gaan lê, dink ek: Wanneer sal ek opstaan? Maar die aand is lank, en ek word sat van al die omdraai tot die môreskemering toe.

5. My vlees is bekleed met wurms en stofklonte; my vel trek opmekaar en etter dan weer.

6. My dae is vinniger as ’n wewerspoel en verdwyn sonder verwagting.

7. Bedink tog dat my lewe wind is; my oog sal die voorspoed nie weer sien nie.

8. Die oog van hom wat my sien, sal my nie meer aanskou nie. U oë is op my — en ek is daar nie!

Job 7