17. in die tyd van gloeihitte verdwyn hulle; as dit warm word, droog hulle op uit hul plek.
18. Die paaie van hulle loop kronkelend weg en gaan heen in die wildernis en vergaan.
19. Die karavane van Tema het uitgekyk, die reisigers van Skeba het daarop gewag.
20. Hulle het beskaamd gestaan in hul vertroue; hulle het daarby gekom en was teleurgesteld.
21. So het julle dan vir my niks geword nie: julle sien verskrikking, en julle het gevrees.
22. Het ek dan gesê: Gee my iets? Of: Bring vir my ’n omkoopgeskenk uit julle vermoë?
23. Of: Red my uit die hand van die teëstander? Of: Verlos my uit die hand van tiranne?
24. ONDERRIG my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het.
25. Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig ’n bestraffing uit, van julle afkomstig?
26. Dink julle om woorde te bestraf? Maar die woorde van ’n wanhopige is vir die wind!
27. Ja, julle sou ’n wees uitloot en julle vriend verhandel.
28. Maar nou, kyk my asseblief aan: ek sal julle waarlik nie in jul gesig belieg nie.