17. KYK, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.
18. Want Hý doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.
19. In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.
20. In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.
21. As die tong gésel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie.
22. Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie.
23. Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend.