Job 5:12-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie;

13. wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.

14. Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag.

15. So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man.

16. So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe.

17. KYK, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie.

18. Want Hý doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond.

19. In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie.

20. In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard.

21. As die tong gésel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie.

22. Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie.

23. Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend.

24. En jy sal uitvind dat jou tent in vrede is; en as jy op jou woonplek rondkyk, sal jy niks vermis nie.

25. Ook sal jy uitvind dat jou kroos talryk is en jou nakomelinge soos die plante van die aarde.

26. Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos ’n koringgerf ingebring word op sy tyd.

Job 5