Job 41:4-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit — wie kan daarin deurdring?

5. Die deure van sy gesig — wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking.

6. ’n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met ’n vaste seël.

7. Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie.

8. Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.

9. Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad.

10. Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.

11. Uit sy neusgate kom rook, soos uit ’n kokende pot met biesiesvuur daarby.

12. Sy asem laat kole ontvlam, en ’n vlam gaan uit sy mond.

13. In sy nek woon sterkte, en voor hom uit spring ontsteltenis.

14. Die klompe van sy vleis is vas aanmekaar, aan hom vasgegiet, onbeweeglik.

15. Sy hart is hard soos ’n klip, ja, hard soos die onderste meulsteen.

16. As hy hom oplig, word die magtiges bang; van verbystering raak hulle buite hulself.

17. Raak iemand hom met die swaard — dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie.

18. Yster is vir hom soos strooi; koper soos hout wat vergaan het.

19. Die pyl laat hom nie vlug nie; slingerstene word vir hom soos stoppels.

20. Knopkieries is vir hom soos stoppels, en hy lag oor die gesuis van die lans.

Job 41