Job 41:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. NIEMAND is so vermetel, dat hy hom durf terg nie; wie is hy dan wat voor My sou standhou?

2. Wie het eerste aan My gegee, dat Ek hom moet vergelde? Wat onder die ganse hemel is, is myne.

3. Ek wil nie swyg oor sy lede en hoe dit staan met sy kragsvolheid en die skoonheid van sy uitrusting nie.

4. Wie het die boonste van sy pantser opgelig? In sy dubbele gebit — wie kan daarin deurdring?

5. Die deure van sy gesig — wie het dit geopen? Rondom sy tande is verskrikking.

6. ’n Voorwerp van trots is die groewe van die skilde, verseël met ’n vaste seël.

7. Die een is so naby die ander, dat die wind daar nie tussenin kan kom nie.

8. Hulle kleef aanmekaar, hou aanmekaar vas, onafskeibaar.

9. Sy genies laat lig skitter, en sy oë is soos die ooglede van die dageraad.

10. Uit sy mond kom fakkels, spat vuurvonke uit.

11. Uit sy neusgate kom rook, soos uit ’n kokende pot met biesiesvuur daarby.

12. Sy asem laat kole ontvlam, en ’n vlam gaan uit sy mond.

Job 41