2. En die toorn van Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, uit die geslag van Ram, het ontvlam; teen Job het sy toorn ontvlam, omdat hy homself regverdig beskou het voor God.
3. Sy toorn het ook ontvlam teen sý drie vriende, omdat hulle geen antwoord gevind het nie en Job veroordeel het.
4. Maar Elíhu het op Job gewag met sy woorde, omdat hulle ouer was as hy.
5. Maar toe Elíhu sien dat daar geen antwoord was in die mond van die drie manne nie, het sy toorn ontvlam.
6. EN Elíhu, die seun van Barágeël, die Busiet, het begin en gesê: Ek is jonk, en u is hoogbejaard; daarom was ek beskroomd en het gevrees om my kennis aan u mee te deel.
7. Ek het gesê: Laat die dae spreek en die veelheid van jare wysheid te kenne gee.
8. Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak.
9. Nie die bejaardes is wys nie, en nie die oues verstaan wat reg is nie.
10. Daarom sê ek: Luister na my; ek wil ook my kennis meedeel.
11. Kyk, ek het gewag op u woorde; ek wou luister na verstandige taal van u, totdat u die regte woorde uitgevind het.