Job 32:12-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En ek het op u ag gegee; maar kyk: daar was niemand wat Job weerlê het nie, niemand van u wat sy woorde beantwoord het nie.

13. Sê maar net nie: Ons het wysheid aangetref, God alleen kan hom verslaan, geen mens nie.

14. Teen my tog het hy geen woorde ingebring nie; en met u redeneringe sal ek hom nie beantwoord nie.

15. HULLE staan verslae; hulle antwoord nie meer nie; die woorde laat hulle in die steek.

16. Sal ek dan wag, omdat hulle nie spreek nie, omdat hulle daar staan sonder antwoord?

17. Ek wil ook my deel antwoord; ek wil ook my kennis meedeel.

18. Want ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my.

19. Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars.

20. Ek wil spreek om lug te kry, my lippe oopmaak en antwoord gee.

21. Ek wil nie partydig wees nie; en ’n mens vlei, sal ek nie.

22. Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem!

Job 32