Job 31:16-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. As ek die armes ’n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het

17. en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet;

18. (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by ’n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!)

19. as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie;

20. as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie;

21. as ek my hand teen ’n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het —

22. laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word.

23. Want die ondergang wat God bewerk, was ’n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.

24. As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue!

25. As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het;

26. as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan,

27. en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle ’n kus toegewerp het —

28. ook dit sou ’n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.

29. As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het;

30. (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur ’n vloek sy lewe te vorder nie!)

31. as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie?

32. (die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!)

33. as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek,

34. omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie!

35. Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het!

Job 31