1. EK het ’n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ’n jonkvrou?
2. Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes —
3. is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie?
4. Sien Hý nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?
5. As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog:
6. laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!
7. As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande ’n vlek gekleef het —
8. laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word.
9. As my hart verlok was oor ’n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste —
10. laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig.
11. Want dit is ’n skandelike daad, en dit is ’n strafbare misdaad.
12. Ja, dit is ’n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel.