Job 21:1-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. MAAR Job het geantwoord en gesê:

2. Luister goed na my rede, en laat dit die vertroostinge wees wat julle aanbied.

3. Verdra my, dat ek ook kan spreek; en nadat ek gespreek het, kan jy spot.

4. Wat my aangaan, geld my geklaag dan ’n mens? Of waarom sou ek nie ongeduldig word nie?

5. Kyk my aan, en wees verskrik; en lê die hand op die mond.

6. JA, as ek daaraan dink, is ek glad verslae, en verskrikking gryp my vlees aan.

7. Waarom bly die goddelose lewe, word hulle oud, ja, neem hulle toe in krag?

8. Hulle nakomelinge bestaan voor hulle in hul gemeenskap, en hul spruite voor hulle oë.

9. Hul huise het vrede, sonder skrik; en die roede van God is op hulle nie.

10. Sy stier bespring en mis nie; sy koei kalf en het geen misdrag nie.

11. Hulle laat hul jong seuns loop soos ’n trop kleinvee, en hul kinders spring rond.

12. Hulle sing by die tamboeryn en siter en is bly by die klank van die fluit.

13. In voorspoed slyt hulle hul dae, en in ’n oomblik sink hulle in die doderyk af.

14. Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.

15. Wat is die Almagtige dat ons Hom sou dien? En wat baat dit ons dat ons biddend by Hom aandring?

16. (Kyk, hulle voorspoed is nie in húl hand nie: die gesindheid van die goddelose is ver van my!)

17. Hoe selde gaan die lamp van die goddelose dood en oorval hul ondergang hulle! Deel Hy smarte uit in sy toorn,

18. word hulle soos strooi voor die wind, en soos kaf wat die stormwind wegvoer?

19. JULLE sê: God spaar sy onheil vir sy kinders op. Ek sê: Hy moes dit aan homself vergeld, dat hy kan voel!

Job 21