Job 19:13-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. MY broers het Hy ver van my verwyder, en my bekendes het vir my heeltemal vreemd geword.

14. My nabestaandes ontbreek, en my vertroudes het my vergeet.

15. My bywoners en my slavinne beskou my as ’n vreemde; ’n onbekende het ek geword in hulle oë.

16. Ek roep my slaaf, maar hy antwoord nie; met my mond moet ek hom smeek.

17. My asem is vir my vrou hinderlik, en my slegte reuk vir die kinders van my moeder se skoot.

18. Selfs jong seuns minag my; wil ek opstaan, dan spot hulle met my.

19. Al my vertroude vriende het ’n afsku van my; en die wat ek liefgehad het, het hulle teen my gekeer.

20. My gebeente kleef aan my vel en aan my vlees, en ek het slegs met my tandvlees ontsnap.

21. Ontferm julle oor my, ontferm julle oor my, o my vriende, want die hand van God het my getref!

22. Waarom vervolg julle my, soos God, en word nie versadig van my vlees nie?

23. Ag, mag my woorde tog maar opgeskrywe, mag hulle maar in ’n boek opgeteken word —

24. met ’n ystergriffel en lood — vir altyd in ’n rots ingekap!

25. MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.

26. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou;

27. Hom wat ék sal aanskou my ten goede, en my oë — en geen vreemde nie — sal sien, My niere versmag van verlange in my binneste.

28. As julle sê: Hoe sal ons hom vervolg, aangesien die wortel van die saak in hom gevind is! —

29. vrees dan vir die swaard, want grimmigheid is een van die oortredinge wat die swaard verdien, sodat julle kan weet dat daar ’n oordeel is.

Job 19