Job 16:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. En U het my gegryp — ’n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my.

9. Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan.

10. Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my.

11. God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.

12. Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel.

13. Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit.

14. Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos ’n held.

15. ’n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek.

16. My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar ’n doodskaduwee;

17. alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is.

18. o AARDE, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie.

19. Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes.

20. My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God —

Job 16