9. van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak ’n tak soos ’n jong plantjie.
10. Maar ’n man sterwe en is magteloos; ja, ’n mens blaas die asem uit en — waar is hy?
11. Die waters verdwyn uit die groot waterplas, en die rivier droog uit en lê droog —
12. so lê die mens daar sonder om weer op te staan; totdat die hemele nie meer is nie, word hulle nie wakker of uit hul slaap opgewek nie.
13. Ag, as U my maar in die doderyk wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!
14. As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom;
15. U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang.
16. Want nou tel U my voetstappe. Let U nie op my sonde nie?
17. My oortreding is verseël in ’n bondeltjie, en U sluit my ongeregtigheid weg.
18. Maar soos ’n berg stukkend val as dit neerstort, en ’n rots versit word uit sy plek;
19. die water klippe glad skuur; die stortvloede daarvan die grond van die aarde wegspoel; so is die verwagting van ’n mens — U maak dit tot niet.
20. U oorweldig hom vir ewig, en hy gaan heen; U verander sy gelaat en stuur hom weg.
21. Sy kinders kom in eer, maar hy word dit nie gewaar nie; en hulle word gering, maar hy let nie op hulle nie.