9. Wie weet nie deur al hierdie dinge dat die hand van die Here dit gemaak het nie?
10. In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees.
11. Moet die oor nie woorde toets soos die verhemelte spys proe nie?
12. By die grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand.
13. BY Hóm is wysheid en mag; Hý het raad en verstand.
14. Kyk, Hy breek af, en daar word nie opgebou nie; Hy sluit ’n man as gevangene op, en daar word nie oopgemaak nie.
15. Kyk, Hy hou die waters terug, en hulle verdroog; ook laat Hy hulle los, en hulle keer die aarde om.
16. By Hóm is krag en beleid; syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal.
17. Hy voer raadsmanne uitgeplunder weg, en regters maak Hy tot dwase.
18. Hy maak die band los waar konings mee bind, en bind ’n lyfdoek om hulle heupe.
19. Hy voer priesters uitgeplunder weg en bring wie vasstaan, tot ’n val.
20. Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel.
21. Hy stort veragting uit oor die edeles en maak die gordel van die magtiges slap.
22. Hy openbaar dieptes uit die duisternis uit, en doodskaduwee bring Hy uit in die lig.
23. Hy maak nasies groot en laat hulle omkom; Hy brei nasies uit en voer hulle weg.
24. Hy neem die verstand weg van die volkshoofde van die land en laat hulle ronddwaal in ’n wildernis, sonder pad.
25. Hulle tas in die duisternis, sonder lig; en Hy laat hulle ronddwaal soos ’n dronk man.