13. MAAR daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
14. As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
15. Was ek skuldig — wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
16. En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos ’n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
17. U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder — altyd nuwe leërafdelings teen my!
18. Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat ’n oog my gesien het.
19. Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
20. Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek ’n bietjie vrolik kan wees,
21. voordat ek heengaan — en nie terugkom nie — na die land van duisternis en doodskaduwee,
22. ’n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee ’n skynsel — soos middernag!