1. HOOR dit, huis van Jakob wat julleself noem met die naam van Israel en uit die waters van Juda voortgekom het, wat sweer by die Naam van die Here en die God van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie —
2. want hulle noem hul na die heilige stad en steun op die God van Israel, Here van die leërskare is sy Naam.
3. Die vorige dinge het Ek lankal verkondig, en uit my mond het dit uitgegaan, en Ek het dit laat hoor; skielik het Ek dit volbring, en dit het gekom.
4. Omdat Ek geweet het dat jy halsstarrig is, en jou nek ’n ystersening is, en jou voorhoof koper,
5. daarom het Ek jou dit lank tevore verkondig; voordat dit gekom het, het Ek jou dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld of my gegote beeld het dit beveel nie.
6. Jy het dit gehoor — aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie.
7. Nou is hulle geskape en nie tevore nie; en voor vandag het jy niks daarvan gehoor nie, dat jy nie sou sê: Kyk, ek het dit geweet nie!
8. Ja, jy het dit nie gehoor nie, ook het jy dit nie geweet, ook het jou oor tevore nie daarvoor oopgegaan nie; want Ek het geweet dat jy baie troueloos handel, en dat jy van die moederskoot af ’n oortreder genoem is.
9. Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie.
10. Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.
11. Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen — want ag, hoe is my Naam ontheilig! — en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.