1. MAAR luister nou, my kneg Jakob, en Israel wat Ek uitverkies het!
2. So sê die Here, jou Maker en jou Formeerder van die moederskoot af, wat jou help: Wees nie bevrees nie, Jakob, my kneg, en Jesúrun wat Ek uitverkies het!
3. Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond; Ek sal my Gees op jou kroos giet en my seën op jou nakomelinge.
4. En hulle sal uitspruit tussen die gras in, soos wilgerbome by waterlope.
5. Die een sal sê: Ek behoort aan die Here; en die ander sal die naam van Jakob uitroep; en die ander sal met sy hand skrywe: Ek behoort aan die Here, en hom met die erenaam Israel noem.
6. SO sê die Here, die Koning van Israel en sy Losser, die Here van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.