3. Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi.
4. Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los.
5. Die Here is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid.
6. En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ’n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die Here sal sy skat wees.
7. Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.
8. Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie.
9. Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos ’n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.
10. Nou sal Ek opstaan, sê die Here; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.
11. Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is ’n vuur wat julle sal verteer.
12. Dan word die volke ’n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word.