Jesaja 3:3-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap ambagsman en die ervare besweerder.

4. En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers.

5. En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop.

6. As ’n man sy broer aangryp in die huis van sy vader en sê: Jy het ’n kleed, jy moet owerste oor ons wees, en laat hierdie ingestorte puinhoop onder jou toesig wees —

7. dan sal hy in dié dag uitroep en sê: Ek kan geen geneesheer wees nie, en in my huis is geen brood en geen kleed nie; maak my nie ’n owerste van die volke nie.

8. Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval; want hulle tong en hulle dade is teen die Here om sy oë, vol heerlikheid, te trotseer.

9. Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!

10. Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan; want die vrug van hul handelinge sal hulle eet.

11. Wee die goddelose! Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.

12. Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak.

13. Die Here staan daar om ’n regstryd te voer: Hy tree op om die volke te vonnis.

14. Die Here gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk. Ja, júlle het die wingerd afgewei; wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise.

15. Wat is dit met julle dat julle my volk vertrap en die ellendiges mishandel? spreek die Here Here van die leërskare.

16. Verder het die Here gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel,

Jesaja 3