18. En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.
19. Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud.
20. Die aarde waggel geheel en al soos ’n dronkaard en swaai heen en weer soos ’n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.
21. En in dié dag sal die Here besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde;
22. en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in ’n kuil en bewaar word in ’n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.