24. DIE Here van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand:
25. om Assur te verbreek in my land, en op my berge sal Ek hom vertrap, sodat sy juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk.
26. Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies;
27. want die Here van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer?
28. IN die sterfjaar van koning Agas het hierdie Godspraak uitgegaan.
29. Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal ’n basilisk voortkom, en sy vrug sal ’n vlieënde draak wees.
30. En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal veilig lê en rus; maar jou wortel sal Ek deur honger laat sterwe, en jou oorblyfsel sal hy doodmaak.
31. Huil, o poort! Skreeu, o stad! Bewe, o ganse land van die Filistyne! Want uit die noorde kom rook, en daar is geen afswerwer onder sy skare nie.
32. Wat sal hulle dan die boodskappers van die nasie antwoord? Dat die Here Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil.