Jeremia 7:10-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! — om al hierdie gruwels te doen?

11. Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, ’n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek — kyk, Ek het dit gesien, spreek die Here.

12. Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel.

13. Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die Here, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie,

14. daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het.

15. En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het.

16. En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie.

17. Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie?

18. Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg.

19. Terg hulle Mý? spreek die Here. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie?

20. Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie.

21. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis.

22. Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie.

23. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan.

24. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie.

Jeremia 7