42. Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.
43. Sy stede het ’n woesteny geword, ’n dor land en ’n wildernis; ’n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.
44. En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.
45. Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die Here!
46. En laat julle hart nie week wees, sodat julle bevrees word by die tyding wat in die land gehoor word nie, as daar ’n tyding kom in die een jaar, en daarna ’n tyding in die ander jaar, en daar geweld is in die land, heerser teen heerser.
47. Daarom, kyk, daar kom dae dat Ek besoeking sal doen oor die gesnede beelde van Babel; en sy hele land sal beskaamd staan, en al sy gesneuweldes sal daarin val.