10. En Ismael het die hele oorblyfsel van die volk wat in Mispa was, as gevangenes weggevoer; die dogters van die koning en die hele volk wat in Mispa oorgebly het, wat Nebusarádan, die owerste van die lyfwag, aan Gedálja, die seun van Ahíkam, toevertrou het — Ismael, die seun van Netánja, het hulle as gevangenes weggevoer en hy het weggetrek om oor te gaan na die kinders van Ammon.
11. Toe Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat by hom was, hoor al die onheil wat Ismael, die seun van Netánja, aangerig het,
12. het hulle al die manne geneem en weggetrek om teen Ismael, die seun van Netánja, te veg; en hulle het hom aangetref by die groot water wat by Gíbeon is.
13. En toe die hele volk wat by Ismael was, Jóhanan, die seun van Karéag, sien en al die owerstes van die leërs saam met hom, was hulle bly;
14. en die hele volk wat Ismael uit Mispa as gevangenes weggevoer het, het omgedraai en weer oorgeloop na Jóhanan, die seun van Karéag.
15. Maar Ismael, die seun van Netánja, het van Jóhanan ontsnap saam met agt man en weggetrek na die kinders van Ammon.
16. Toe het Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat by hom was, die hele oorblyfsel van die volk geneem wat Ismael, die seun van Netánja, uit Mispa as gevangenes weggevoer het, nadat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, verslaan het — naamlik manne, krygsmanne, en vroue en kinders en hofdienaars, wat hy van Gíbeon teruggebring het.
17. En hulle het weggetrek en vertoef in Gerut-Kimham wat naby Betlehem lê, om verder na Egipte te trek,
18. vanweë die Chaldeërs; want hulle was vir hulle bevrees, omdat Ismael, die seun van Netánja, Gedálja, die seun van Ahíkam, verslaan het, wat deur die koning van Babel oor die land aangestel was.