Hebreërs 10:10-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.

11. En elke priester staan wel dag vir dag om die diens waar te neem en dikwels dieselfde slagoffers te bring wat tog nooit die sondes kan wegneem nie;

12. maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God

13. en wag nou verder totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete.

14. Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word.

15. En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis;

16. want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe,

17. en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.

18. Waar daar nou vergifnis van hierdie dinge is, is daar geen offer meer vir die sonde nie.

19. TERWYL ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus

20. op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees,

21. en ons ’n groot Priester oor die huis van God het,

22. laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

23. Laat ons die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou;

Hebreërs 10