23. Want ek sien dat jy in ’n gal van bitterheid en bande van ongeregtigheid is.
24. Maar Simon het geantwoord en gesê: Bid julle tot die Here vir my, sodat niks van wat julle gesê het, oor my mag kom nie.
25. Nadat hulle dan kragtig getuig en die woord van die Here gespreek het, het hulle na Jerusalem teruggegaan en die evangelie aan baie dorpe van die Samaritane verkondig.
26. EN ’n engel van die Here het met Filippus gespreek en gesê: Staan op en gaan na die suide op die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Dit is ’n eensame pad.
27. Toe het hy opgestaan en gegaan. En daar was ’n man van Ethiópië, ’n hofdienaar, ’n staatsamptenaar van Kandacé, die koningin van die Ethiópiërs, wat oor al haar skatte was en na Jerusalem gekom het om te aanbid.
28. En hy was op die terugreis en het op sy wa gesit en die profeet Jesaja gelees.
29. Toe sê die Gees vir Filippus: Gaan daarheen en bly by daardie wa.