14. En Petrus sê: Nooit nie, Here, want ek het nooit iets onheiligs of onreins geëet nie.
15. En weer het die stem vir die tweede keer na hom gekom: Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie.
16. En dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is weer in die hemel opgeneem.
17. En terwyl Petrus by homself daaroor verleë was wat die gesig tog kon beteken wat hy gesien het, staan die manne wat deur Cornelius gestuur was, daar by die poort en verneem na die huis van Simon.
18. En hulle roep en vra of Simon, wat ook Petrus genoem word, daar tuis is.
19. En terwyl Petrus nadink oor die gesig, sê die Gees vir hom: Daar is drie manne wat jou soek.
20. Staan dan op, klim af en gaan saam met hulle sonder om te twyfel, want Ek het hulle gestuur.
21. En Petrus het afgeklim na die manne wat deur Cornelius na hom gestuur was, en gesê: Kyk, dit is ek wat julle soek. Wat is die rede waarom julle hier is?
22. En hulle sê: Cornelius, ’n hoofman oor honderd, ’n regverdige en godvresende man, wat ’n goeie naam het by die hele Joodse nasie, het ’n goddelike openbaring ontvang deur ’n heilige engel, om u te laat haal na sy huis om te hoor wat u sal sê.