Hábakuk 3:5-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Voor Hom uit loop die pes, en ’n koorsgloed trek uit agter Hom aan.

6. Hy tree op en laat die aarde wankel, Hy kyk en laat nasies opskrik; verpletterd lê die ewige berge, en neergesink die ou, ou heuwels — paaie van die ou tyd vir Hom.

7. Ek sien die tente van Kusan met onheil oordek, en die tentdoeke van die land Mídian bewe.

8. Is dit teen riviere, o Here, teen die riviere, dat u toorn ontvlam het? Of geld u grimmigheid die see dat U ry met u perde, u oorwinningswaens?

9. Heeltemal ontbloot is u boog; besweer is die pyle deur die woord. Sela. Tot riviere splyt U die aarde.

10. Die berge sien U en bewe van angs, ’n wolkbreuk storm verby, die wêreldvloed verhef sy stem, steek sy hande omhoog.

11. Die son, die maan bly in hulle woonplek by die lig van u pyle wat verbyskiet, by die glans van flikkerende spies.

12. In grimmigheid betree U die aarde, in toorn dors U die nasies.

13. U trek uit tot redding van u volk, tot redding van u Gesalfde. U verbrysel die kop van die huis van die goddelose en ontbloot die fondament tot by die nek. Sela.

Hábakuk 3