Génesis 41:43-54 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

43. en hom laat ry op sy tweede rytuig; en hulle het voor hom uitgeroep: Pas op! So het hy hom dan oor die hele Egipteland aangestel.

44. En Farao sê vir Josef: Ek is Farao, maar sonder jou mag niemand sy hand of voet in die hele Egipteland verroer nie.

45. En Farao het Josef genoem Sáfenat-Panéag en aan hom Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, as vrou gegee. En Josef het uitgetrek oor Egipteland.

46. En Josef was dertig jaar oud toe hy voor Farao, die koning van Egipte, gestaan het; en Josef het van Farao af weggegaan en die hele Egipteland deurgetrek.

47. En die land het met handvolle opgelewer in die sewe jare van oorvloed.

48. Toe het hy al die voedsel van die sewe jare versamel wat in Egipteland gekom het, en voedsel in die stede weggesit — die voedsel van die land wat rondom elke stad was, het hy daarin weggesit.

49. So het Josef dan ’n baie groot hoeveelheid koring opgehoop soos die sand van die see, totdat hulle opgehou het om te tel, want dit was ontelbaar.

50. En vir Josef is twee seuns gebore — voordat die jaar van hongersnood gekom het — wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het.

51. En Josef het die eersgeborene Manasse genoem; want, het hy gesê, God het my al my moeite laat vergeet en ook die hele huis van my vader.

52. En die tweede het hy Efraim genoem; want, het hy gesê, God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende.

53. Toe het die sewe jare van oorvloed wat daar in Egipteland was, ten einde gekom,

54. en die sewe jare van hongersnood het begin aankom soos Josef voorspel het. En daar was hongersnood in al die lande, maar in die hele Egipteland was daar brood.

Génesis 41