2. Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ’n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.
3. En Jakob het boodskappers uitgestuur voor hom uit na sy broer Esau in die land Seïr, die landstreek van Edom,
4. en aan hulle bevel gegee met die woorde: So moet julle aan my heer, aan Esau, sê: So sê Jakob, u dienaar — ek het as vreemdeling vertoef by Laban en daar gebly tot nou toe;
5. en ek het beeste en esels, kleinvee en slawe en slavinne verwerf, en my heer dit laat weet, sodat ek guns mag vind in u oë.
6. En die boodskappers het na Jakob teruggekom en gesê: Ons het by u broer Esau gekom, en hy trek u alreeds tegemoet en vierhonderd man saam met hom.
7. Toe het Jakob baie bevrees en benoud geword, en hy het die mense wat by hom was, sowel as die kleinvee en beeste en kamele in twee laers verdeel;
8. want hy het gedink: As Esau op die een laer afkom en dit verslaan, sal die laer wat oorbly, vryraak.
9. En Jakob het gesê: o God van my vader Abraham en God van my vader Isak, o Here, wat my beveel het: Gaan terug na jou land en na jou familie, en Ek sal aan jou goed doen —
10. ek is te gering vir al die gunste en al die trou wat U aan u kneg bewys het; want ek het met my staf oor hierdie Jordaan getrek en nou twee laers geword.
11. Red my tog uit die hand van my broer, uit die hand van Esau, want ek is bang vir hom, dat hy sal kom en my doodslaan, die moeder saam met die kinders.
12. U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
13. En hy het die nag daar oorgebly en van wat in sy besit was, ’n geskenk geneem vir sy broer Esau:
14. tweehonderd bokooie en twintig bokke, tweehonderd skaapooie en twintig ramme,
15. dertig kameelkoeie wat in die melk was, met hulle kalfies, veertig koeie en tien bulle, twintig eselinne en tien jong esels;
16. en hy het hulle aan sy dienaars afgegee, elke trop afsonderlik, en aan sy dienaars gesê: Trek voor my uit, en laat ’n plek oop tussen trop en trop.
17. Daarop gee hy aan die eerste een bevel en sê: As my broer Esau jou teëkom en jou vra: Aan wie behoort jy, en waarheen gaan jy, en wie s’n is die goed daar voor jou?
18. dan moet jy antwoord: U dienaar Jakob s’n. Dit is ’n geskenk wat hy aan my heer Esau stuur; en kyk, hy self kom ook agter ons aan.
19. En hy het ook bevel gegee aan die tweede en aan die derde en aan almal wat agter die troppe geloop het, en gesê: Net so moet julle Esau antwoord as julle hom kry —