Génesis 27:15-31 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;

16. en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek,

17. en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun.

18. Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?

19. En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.

20. Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die Here u God dit my laat teëkom het.

21. En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie.

22. En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.

23. Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën.

24. Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja.

25. Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.

26. Daarop sê sy vader Isak vir hom: Kom tog nader en soen my, my seun!

27. En hy het nader gekom en hom gesoen. Toe ruik hy die geur van sy klere, en hy seën hom en sê: Kyk, die geur van my seun is soos die geur van die veld wat die Here geseën het.

28. En mag God jou gee van die dou van die hemel en van die vet grond van die aarde en oorvloed van koring en mos.

29. Volke sal jou dien, en nasies voor jou neerbuig. Wees ’n heerser oor jou broers, en die seuns van jou moeder moet hulle voor jou neerbuig. Vervloek is hulle wat jou vloek, en geseënd hulle wat jou seën.

30. Maar toe Isak Jakob klaar geseën het en Jakob nog skaars van sy vader Isak af weggegaan het, kom sy broer Esau van die jag af,

31. en hý maak ook ’n lekker ete en bring dit na sy vader en sê aan sy vader: Laat my vader hom oprig en eet van die wildsvleis van sy seun, sodat u siel my kan seën.

Génesis 27