Génesis 27:14-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. Toe het hy dit gaan haal en na sy moeder gebring. En sy moeder het daarvan ’n lekker ete gemaak soos sy vader dit graag wou hê.

15. Ook neem Rebekka die beste klere van Esau, haar oudste seun, wat by haar in die huis was, en sy trek dit vir Jakob, haar jongste seun, aan;

16. en die velle van die bokkies trek sy oor sy hande en oor die gladdigheid van sy nek,

17. en sy gee die lekker ete en die brood wat sy gemaak het, in die hand van Jakob, haar seun.

18. Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun?

19. En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.

20. Daarop het Isak aan sy seun gesê: Hoe het jy dit so gou gekry, my seun? En hy antwoord: Omdat die Here u God dit my laat teëkom het.

21. En Isak sê vir Jakob: Kom tog nader, dat ek jou kan betas, my seun, of jy waarlik my seun Esau is of nie.

22. En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande.

23. Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën.

24. Hy het naamlik gevra: Is jy waarlik my seun Esau? En hy het geantwoord: Ja.

25. Toe sê hy: Bring dit vir my nader, dat ek van die wildsvleis van my seun kan eet, sodat my siel jou kan seën. En hy het dit vir hom nader gebring, en hy het geëet. Hy het vir hom ook wyn gebring, en hy het gedrink.

Génesis 27