Filippense 1:4-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. en ek bid altyd in al my gebede vir julle almal met blydskap —

5. oor julle gemeenskap aan die evangelie van die eerste dag af tot nou toe,

6. omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus;

7. soos dit vir my reg is om dit van julle almal te dink, omdat ek julle in my hart dra, aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die genade is.

8. Want God is my getuie hoe ek na julle almal verlang met die innige tederheid van Jesus Christus.

9. En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,

10. om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus,

11. vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.

12. En ek wil hê dat julle moet weet, broeders, dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het,

13. sodat my boeie openbaar geword het in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander,

14. en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, dit des te meer waag om die woord onbevrees te spreek.

15. Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid:

16. die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg;

17. maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie.

Filippense 1