1. VERDER het die Here met Moses gespreek: Gaan na Farao en sê vir hom: So spreek die Here: Laat my volk trek, dat hulle My kan dien.
2. En as jy weier om hulle te laat trek, kyk, dan sal Ek jou hele grondgebied met paddas teister,
3. sodat die Nyl van paddas sal wemel. En hulle sal opklim en in jou huis kom en in jou slaapkamer en op jou bed; ook in die huis van jou dienaars en onder jou volk, en in jou bakoonde en in jou bakskottels.
4. En die paddas sal teen jou en teen jou volk en teen al jou dienaars opspring.
5. Verder het die Here met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland.
6. En Aäron het sy hand oor die waters van Egipte uitgesteek, en daar het paddas opgekom en Egipteland oordek.
7. Maar die towenaars het dieselfde gedoen met hulle towerkunste en paddas laat opkom oor Egipteland.