Exodus 36:25-35 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. Hy het ook vir die ander sykant van die tabernakel, aan die noordekant, twintig style gemaak

26. met hulle veertig silwervoetstukke: twee voetstukke onder die een styl en twee voetstukke onder die ander styl.

27. En vir die agterkant van die tabernakel, teen die weste, het hy ses style gemaak.

28. Ook het hy twee style vir die hoeke van die tabernakel aan die agterkant gemaak.

29. En hulle was dubbel van onder, en net so was hulle bo dubbel tot by die eerste ring. So het hy dit gemaak vir altwee, vir die twee hoeke.

30. So was daar dan agt style met hulle silwervoetstukke: sestien voetstukke; twee voetstukke onder elke styl.

31. Hy het ook dwarshoute van akasiahout gemaak: vyf vir die style van die een sykant van die tabernakel

32. en vyf dwarshoute vir die style van die ander sykant van die tabernakel; ook vyf dwarshoute vir die style van die agterkant van die tabernakel teen die weste.

33. En hy het die middelste dwarshout gemaak om oordwars te loop, in die middel van die style, van die een ent na die ander.

34. En hy het die style met goud oorgetrek; en hulle ringe, as plekke vir die dwarshoute, het hy van goud gemaak. Die dwarshoute het hy ook met goud oorgetrek.

35. Verder het hy die voorhangsel gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne; as kunstige werk het hy dit gemaak, met gérubs.

Exodus 36