18. Jy moet ook ’n koperwaskom maak met sy kopervoetstuk, om in te was; en sit dit tussen die tent van samekoms en die altaar, en gooi water daarin,
19. dat Aäron en sy seuns hulle hande en hulle voete daaruit kan was.
20. As hulle in die tent van samekoms gaan, moet hulle hul met water was, sodat hulle nie sterwe nie; of as hulle naby die altaar kom om te dien deur ’n vuuroffer aan die Here aan die brand te steek.
21. Hulle moet dan hul hande en hulle voete was, sodat hulle nie sterwe nie. En dit moet vir hulle ’n ewige insetting wees, vir hom en sy nageslag in hulle geslagte.
22. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:
23. En jý, neem vir jou van die beste speserye: vyfhonderd sikkels fyn mirre en die helfte soveel geurige kaneel, tweehonderd-en-vyftig sikkels, en tweehonderd-en-vyftig sikkels geurige kalmoes
24. en vyfhonderd sikkels kassie, volgens die sikkel van die heiligdom, en ’n hin olyfolie;
25. en maak daarvan heilige salfolie, ’n salfmengsel soos ’n salfmenger dit maak; heilige salfolie moet dit wees.
26. Daarmee moet jy dan die tent van samekoms salf en die ark van die Getuienis
27. en die tafel met al sy gereedskap en die kandelaar met sy gereedskap en die reukaltaar
28. en die brandofferaltaar met al sy gereedskap en die waskom met sy voetstuk.
29. So moet jy hulle dan heilig, dat hulle hoogheilig kan wees. Elkeen wat aan hulle raak, word heilig.
30. Jy moet ook Aäron en sy seuns salf en hulle heilig om vir My die priesteramp te bedien.
31. En jy moet met die kinders van Israel spreek en sê: Dit moet vir My ’n heilige salfolie wees in julle geslagte.
32. Op geen mens se liggaam mag dit uitgegiet word nie; julle mag ook, na dieselfde voorskrif, so iets nie maak nie: heilig is dit; heilig moet dit vir julle wees.
33. Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ’n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.