10. daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke; die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees.
11. So moet daar ook aan die noordekant, in die lengte, behangsels wees, honderd el lank; daarby twintig pilare met hulle twintig kopervoetstukke. Die kramme en die ringe van die pilare moet van silwer wees.
12. En in die breedte van die voorhof, aan die westekant, moet daar behangsels van vyftig el wees; daarby tien pilare en hulle tien voetstukke.
13. En die breedte van die voorhof aan die oostekant, teen sonop, vyftig el —
14. sodat daar vyftien el behangsels vir die een kant is, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke;
15. en vir die ander kant vyftien el behangsels, daarby drie pilare en hulle drie voetstukke;
16. en vir die poort van die voorhof ’n bedekking van twintig el, van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk; daarby vier pilare en hulle vier voetstukke.