Exodus 23:8-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges.

9. Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ’n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.

10. En ses jaar lank moet jy jou land besaai en die opbrings daarvan insamel;

11. maar in die sewende moet jy dit ongebruik en braak laat lê, dat die arm mense van jou volk kan eet; en wat hulle laat oorbly, kan die diere van die veld opeet. So moet jy doen met jou wingerd en jou olyfbome.

12. Ses dae moet jy jou werk verrig, maar op die sewende dag moet jy rus, dat jou os en jou esel kan uitrus en die seun van jou slavin en die vreemdeling kan asem skep.

13. En in alles wat Ek julle gesê het, moet julle jul in ag neem. En die naam van ander gode mag julle nie vermeld nie; dit mag uit jou mond nie gehoor word nie.

14. Drie maal in die jaar moet jy vir My ’n fees hou.

15. Die fees van die ongesuurde brode moet jy hou: sewe dae lank moet jy ongesuurde brode eet soos Ek jou beveel het, op die bepaalde tyd in die maand Abib, want daarin het jy uit Egipte uitgetrek — maar hulle mag nie met leë hande voor my aangesig verskyn nie;

Exodus 23