Exodus 21:23-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. Maar is daar ’n letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,

24. oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,

25. brandplek vir brandplek, wond vir wond, kwesplek vir kwesplek.

26. En as iemand sy slaaf of slavin op die oog slaan en hy dit beskadig, moet hy hom vry laat weggaan vir sy oog.

27. En as hy die tand van sy slaaf of die tand van sy slavin uitslaan, moet hy hom vry laat weggaan vir sy tand.

28. En as ’n bees ’n man of ’n vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van die bees sal ongestraf bly.

29. Maar as die bees tevore al stoterig gewees het en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit ’n man of ’n vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook gedood word.

30. As aan hom losgeld opgelê word, moet hy vir die lossing van sy lewe alles gee wat hom opgelê word.

31. Of dit ’n seun gestoot het of ’n dogter, volgens hierdie reg moet met hom gehandel word.

32. As die bees ’n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.

33. En as iemand ’n put oopmaak, of as iemand ’n put grawe en dit nie toemaak nie, en ’n bees of esel val daarin,

34. moet die eienaar van die put vergoeding gee: hy moet aan die eienaar van die dier geld gee, maar die dooie dier moet syne wees.

Exodus 21