Esra 6:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En deur my word bevel gegee dat van elkeen wat hierdie bevel oortree, ’n balk uit sy huis geruk sal word, en dat hy daaraan opgehang en vasgeslaan sal word, en van sy huis hieroor ’n puinhoop gemaak sal word.

12. En mag God wat sy Naam daar laat woon het, elke koning en volk neerwerp wat sy hand uitsteek om dit te oortree, om naamlik hierdie Godshuis in Jerusalem te verwoes. Ek, Daríus, gee bevel; sorgvuldig moet dit uitgevoer word.

13. Toe het Tattenai, die goewerneur wes van die Eufraat, Setar-Bosenai en hulle partygenote sorgvuldig net so gehandel soos koning Daríus laat weet het.

14. En die oudstes van die Jode het gebou en goed gevorder deur die profetiese werksaamheid van die profeet Haggai en Sagaría, die seun van Iddo; en hulle het gebou en voltooi op bevel van die God van Israel en op bevel van Kores en Daríus en Artasásta, koning van Persië.

15. En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Daríus.

16. EN die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier.

17. En hulle het geoffer by die inwyding van hierdie huis van God: honderd bulle, tweehonderd ramme, vierhonderd lammers en twaalf bokke as sondoffer vir die hele Israel volgens die getal van die stamme van Israel.

18. En hulle het die priesters aangestel volgens hulle afdelings en die Leviete volgens hulle afdelings vir die diens van God in Jerusalem, volgens die voorskrif van die boek van Moses.

19. En die ballinge het die pasga gehou op die veertiende van die eerste maand.

20. Want die priesters en die Leviete het hulle soos een man gereinig — hulle almal was rein — en die paaslam geslag vir al die ballinge en vir hulle broers, die priesters, en vir hulleself.

21. En die kinders van Israel wat uit die ballingskap teruggekeer het, het dit geëet en elkeen wat hom van die onreinheid van die nasies van die land afgesonder het om saam met hulle die Here, die God van Israel, te soek.

22. Hulle het ook die fees van die ongesuurde brode met blydskap sewe dae lank gehou; want die Here het hulle verbly en die hart van die koning van Assirië na hulle omgewend, om hul hande te versterk in die werk aan die huis van God, die God van Israel.

Esra 6