1. EN terwyl Esra bid en hy wenende neerval en belydenis doen voor die huis van God, kom daar uit Israel ’n baie groot vergadering van manne en vroue en kinders by hom bymekaar; want die volk het geween met ’n groot geween.
2. Toe het Segánja, die seun van Jéhiël, van die seuns van Elam, begin spreek en aan Esra gesê: Ons het ontrou gehandel teen onse God, dat ons vreemde vroue uit die volke van die land getrou het; maar tog is daar nog hoop vir Israel in hierdie saak.
3. Laat ons dan nou ’n verbond met onse God sluit om al die vroue en wat uit hulle gebore is, weg te stuur volgens die raad van my heer en van die wat beef vir die gebod van onse God, en laat volgens die wet gehandel word.
4. Staan op, want die saak rus op u, en ons staan by u; wees sterk en handel!
5. Toe het Esra opgestaan en hy het die owerstes van die priesters, die Leviete en die hele Israel laat sweer om volgens hierdie woord te handel; en hulle het gesweer.
6. En Esra het hom opgerig van voor die huis van God en weggegaan na die kamer van Jóhanan, die seun van Éljasib. En hy het daar gekom; geen brood het hy geëet en geen water gedrink nie, want hy het rou bedrywe oor die ontrou van die ballinge.
7. Toe het hulle ’n oproep deur Juda en Jerusalem laat gaan aan al die ballinge om in Jerusalem saam te kom.
8. En elkeen wat nie binne drie dae inkom nie, dié se hele besitting sou volgens besluit van die owerstes en die oudstes deur die banvloek getref word, en hy self uit die vergadering van die ballinge uitgesluit word.
9. Daarop het al die manne van Juda en Benjamin binne drie dae in Jerusalem saamgekom; dit was die negende maand, op die twintigste van die maand; en die hele volk het op die plein van die huis van God gesit en bewe vanweë die saak self en vanweë die reënbuie.
10. En die priester Esra het opgestaan en vir hulle gesê: Julle was ontrou en het vreemde vroue getrou om die skuld van Israel te vermeerder.
11. Gee dan nou aan die Here, die God van julle vaders, die eer en doen wat Hom behaag en sonder julle af van die volke van die land en van die vreemde vroue.
12. Toe antwoord die hele vergadering en sê hardop: Só, volgens u woorde, is ons verplig om te handel;
13. maar die mense is baie, en dit is die reëntyd — dit is onmoontlik om buite te staan; en dit is nie ’n werk van een dag en nie van twee nie, want ons het in hierdie saak swaar oortree.
14. Laat tog ons owerstes vir die hele vergadering optree, dan kan almal in ons stede wat vreemde vroue getrou het, op vasgestelde tye kom, en die oudstes en die regters van elkeen se stad saam met hulle, om die toorngloed van onse God, wat hierdie saak betref, van ons af te wend.
15. Net Jónatan, die seun van Ásahel, en Jagséja, die seun van Tikwa, het hierteen opgetree, en Mesúllam en die Leviet Sábbetai het hulle gesteun.