Eségiël 46:2-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En die vors moet deur die voorportaal van die poort van buite af ingaan en by die deurpos van die poort gaan staan, en die priesters moet sy brandoffer en sy dankoffers berei; en hy moet aanbid by die drumpel van die poort en dan uitgaan; maar die poort moet nie gesluit word tot die aand toe nie.

3. Ook moet die volk van die land aanbid voor die ingang van dié poort, op die sabbatte en op die nuwemane, voor die aangesig van die Here.

4. En die brandoffer wat die vors aan die Here moet bring op die sabbatdag, is ses lammers sonder gebrek en ’n ram sonder gebrek;

5. en die spysoffer: ’n efa vir die ram; maar vir die lammers moet die spysoffer wees wat sy hand kan gee; en ’n hin olie vir ’n efa.

6. Maar op die dag van die nuwemaan: ’n jong bul sonder gebrek en ses lammers en ’n ram — sonder gebrek moet hulle wees;

7. en as spysoffer moet hy gereedmaak: ’n efa vir die bul en ’n efa vir die ram, maar vir die lammers volgens wat hy kan bekostig; en ’n hin olie vir ’n efa.

8. En as die vors ingaan, moet hy deur die voorportaal van die poort ingaan en met dieselfde weg weer uitgaan.

9. Maar as die volk van die land voor die aangesig van die Here kom op die feestye, moet hy wat deur die noordpoort ingaan om te aanbid, deur die suidpoort uitgaan; en hy wat deur die suidpoort ingaan, moet deur die noordpoort uitgaan; hy mag nie teruggaan deur die poort waardeur hy ingegaan het nie, maar moet reguit vorentoe uitgaan.

10. En die vors moet tussen hulle ingaan as hulle ingaan; en as hulle uitgaan, moet hy saam uitgaan.

11. Verder moet op die feeste en op die feestye die spysoffer wees: ’n efa vir ’n bul en ’n efa vir ’n ram, maar vir die lammers, wat sy hand kan gee; en ’n hin olie vir ’n efa.

12. En as die vors ’n vrywillige offer gereedmaak, ’n brandoffer of dankoffers as vrywillige offer aan die Here, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan het.

Eségiël 46