Eségiël 24:5-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Neem die beste van die kleinvee, en ook ’n stapel hout daaronder; laat dit sterk opborrel; ook moet die bene daarin kook.

6. Daarom, so sê die Here Here: Wee die bloedstad, die pot waar roes in is en waarvan die roes nie afgegaan het nie. Haal stuk vir stuk daaruit; geen lot is daaroor gewerp nie.

7. Want die stad se bloed is binne-in hom; op ’n kaal rots het hy dit neergesit; hy het dit nie op die grond uitgegooi om dit met stof te bedek nie.

8. Om grimmigheid te verwek, om wraak te neem, het Ek sy bloed op ’n kaal rots neergesit, dat dit nie toegemaak sou word nie.

9. Daarom, so sê die Here Here: Wee die bloedstad! Ék sal ook die houtstapel groot maak.

10. Dra baie hout aan, steek die vuur aan, maak gaar die vleis en roer die sous en laat die bene braai.

11. En laat dit leeg op sy kole staan, dat dit warm kan word en sy koper kan gloei en sy onreinheid kan smelt in hom — sy roes verteer kan word.

12. Dit het My met moeite oorlaai, en sy baie roes gaan nie van hom af nie. Sy roes moet die vuur in!

Eségiël 24