Eségiël 16:50-63 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

50. En toe hulle hoogmoedig was en gruwelikheid voor my aangesig bedryf het, het Ek, toe Ek dit sien, hulle weggeruim.

51. Samaría het ook nie die helfte van jou sondes gedoen nie: jy het gruwels vermenigvuldig, meer as hulle, en jy het jou susters geregverdig deur al jou gruwels wat jy gedoen het.

52. Dra dan ook jou skande, jy wat vir jou susters ingetree het: deur jou sondes wat jy gruweliker gemaak het as hulle, is hulle regverdiger as jy. Skaam jou dan ook, en dra jou skande, omdat jy jou susters geregverdig het.

53. En Ek sal hulle lot verander, die lot van Sodom en haar dogters, en die lot van Samaría en haar dogters; en Ek sal jou lot verander tussen dié twee in;

54. dat jy jou skande kan dra en jou kan skaam oor alles wat jy gedoen het deur hulle te troos.

55. En jou susters, Sodom met haar dogters, sal na hulle vorige toestand terugkeer; en Samaría met haar dogters sal na hulle vorige toestand terugkeer; en jy met jou dogters sal na julle vorige toestand terugkeer.

56. Ja, die naam van jou suster Sodom is in jou mond nie gehoor in die dag van jou trotsheid nie,

57. voordat jou boosheid geopenbaar is, soos in die tyd van versmading deur die dogters van Aram en deur almal wat daar rondom was — die dogters van die Filistyne — wat jou van alle kante verag het.

58. Jou skandelike daad en jou gruwels moet jý dra, spreek die Here Here.

59. Want so sê die Here Here: Ja, Ek doen aan jou soos jy gedoen het, wat die eedswering geminag het deur die verbond te verbreek.

60. Ewenwel sal Ek dink aan my verbond met jou in die dae van jou jeug, en Ek sal met jou ’n ewige verbond oprig.

61. Dan sal jy aan jou weë dink en skaam wees, as jy jou susters aanneem wat groter is as jy, by dié wat kleiner is as jy, en Ek hulle aan jou as dogters gee; al is dit nie kragtens die verbond met jou nie.

62. En Ek sal my verbond met jou oprig, en jy sal weet dat Ek die Here is;

63. sodat jy kan nadink en beskaamd staan en jou mond nie meer oopmaak vanweë jou skande nie, as Ek vir jou versoening sal bewerk oor alles wat jy gedoen het, spreek die Here Here.

Eségiël 16