19. en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel — om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!
20. Die Here sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die Here en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die Here sal sy naam onder die hemel uitdelg.
21. En die Here sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.
22. En die volgende geslag, julle kinders wat ná julle opstaan, en die uitlander wat uit ’n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat die Here daarin laat uitbreek het —
23. ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat die Here in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het —