Deuteronómium 29:14-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En nie met julle alleen maak ek hierdie verbond en hierdie eedswering nie,

15. maar met die wat vandag hier saam met ons voor die aangesig van die Here onse God staan, én met die wat hier vandag nie saam met ons is nie.

16. Want julle weet self hoe ons in Egipteland gewoon en hoe ons dwarsdeur die nasies getrek het waardeur julle getrek het.

17. En julle het hulle verfoeisels en hulle drekgode, hout en klip, silwer en goud, by hulle gesien,

18. sodat daar onder julle geen man of vrou of geslag of stam mag wees wat sy hart vandag van die Here onse God afwend om die gode van dié nasies te gaan dien nie, sodat daar onder julle geen wortel mag wees wat gif en wildeals dra nie,

19. en as hy die woorde van hierdie eedswering hoor, homself dan in sy hart gelukkig prys deur te sê: Dit sal met my goed gaan alhoewel ek in die verhardheid van my hart wandel — om so die bewaterde saam met die dorstige weg te ruk!

20. Die Here sal hom nie wil vergewe nie, maar dan sal die toorn van die Here en sy ywer teen dié man rook, en die hele vloek wat in hierdie boek geskrywe is, sal op hom rus; en die Here sal sy naam onder die hemel uitdelg.

21. En die Here sal hom tot sy ongeluk van al die stamme van Israel afskei volgens al die vloeke van die verbond wat in hierdie wetboek geskrywe is.

22. En die volgende geslag, julle kinders wat ná julle opstaan, en die uitlander wat uit ’n ver land kom, sal sê, as hulle die plae van daardie land sien en sy siektes wat die Here daarin laat uitbreek het —

23. ook swawel en sout deurdat sy hele oppervlakte uitgebrand is, wat nie besaai word en niks laat uitspruit nie, waarin hoegenaamd geen plante opslaan nie, soos die omkering van Sodom en Gomorra, Adma en Sebóim wat die Here in sy toorn en in sy grimmigheid omgekeer het —

24. en al die nasies sal sê: Waarom het die Here so met hierdie land gedoen? Wat beteken hierdie groot toorngloed?

25. Dan sal hulle antwoord: Omdat hulle die verbond van die Here, die God van hulle vaders, verlaat het wat Hy met hulle gesluit het toe hulle deur Hom uit Egipteland uitgelei is,

26. en hulle ander gode gaan dien en hulle daarvoor neergebuig het, gode wat aan hulle nie bekend was nie, en wat Hy hulle nie toebedeel het nie,

27. daarom het die toorn van die Here teen daardie land ontvlam om daaroor die hele vloek te bring wat in hierdie boek geskrywe is.

28. En die Here het hulle uit hulle land uitgeruk in toorn en in grimmigheid en in groot verbolgenheid; en Hy het hulle weggeslinger na ’n ander land, soos dit vandag is.

29. Die verborge dinge is vir die Here onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

Deuteronómium 29