25. Vandag sal Ek begin om die skrik en die vrees vir jou op die volke onder die hele hemel te lê, sodat hulle, as hulle die tyding aangaande jou hoor, voor jou sal sidder en bewe van angs.
26. Toe het ek boodskappers gestuur uit die woestyn Kedémot na Sihon, die koning van Hesbon, met woorde van vrede om te sê:
27. Laat my deur jou land gaan; ek sal net padlangs trek; ek sal nie regs of links uitdraai nie.
28. Voedsel moet jy my verkoop vir geld, dat ek kan eet; en water moet jy my gee vir geld, dat ek kan drink; laat my net te voet deurtrek —
29. soos die kinders van Esau wat in Seïr woon, en die Moabiete wat in Ar woon, met my gedoen het — totdat ek deur die Jordaan trek in die land wat die Here onse God aan ons sal gee.
30. Maar Sihon, die koning van Hesbon, wou ons nie by hom laat deurtrek nie; want die Here jou God het sy gees verhard en sy hart verstok, dat Hy hom in jou hand kon gee soos dit vandag is.
31. En die Here het vir my gesê: Kyk, Ek begin om Sihon en sy land aan jou oor te gee; begin om in besit te neem, om sy land in besit te neem.
32. Toe het Sihon uitgetrek ons tegemoet, hy en sy hele volk, om te veg by Jahas.
33. En die Here onse God het hom aan ons oorgegee, sodat ons hom en sy seuns en sy hele volk verslaan het.
34. En ons het in dié tyd al sy stede ingeneem en elke stad met die banvloek getref, manne en vroue en kinders; ons het niemand laat vryraak nie.
35. Net die vee het ons vir ons geroof en die buit van die stede wat ons ingeneem het.
36. Van Ároër af wat aan die kant van die Arnonrivier lê, en die stad in die dal, tot by Gílead was daar vir ons geen vesting onneembaar nie — die Here onse God het alles aan ons oorgegee.
37. Net naby die land van die kinders van Ammon het jy nie gekom nie: die hele kant van die Jabbokrivier en die stede van die gebergte en alles wat die Here onse God verbied het.