25. dan moet jy dit tot geld maak en die geld in jou hand bind en na die plek gaan wat die Here jou God sal uitkies.
26. Dan moet jy die geld gee vir alles wat jou siel begeer, vir beeste en kleinvee en wyn en sterk drank en vir alles wat jou siel van jou begeer, en jy moet daar eet voor die aangesig van die Here jou God en vrolik wees, jy en jou huis.
27. Maar die Leviet wat in jou poorte is, hom moet jy nie aan sy lot oorlaat nie, want hy het geen deel of erfenis saam met jou nie.
28. Aan die einde van drie jaar moet jy uitbring al die tiendes van jou opbrings in dié jaar en dit in jou poorte wegsit;
29. dan moet die Leviet kom — omdat hy geen deel of erfenis saam met jou het nie — en die vreemdeling en die wees en die weduwee wat in jou poorte is, en hulle moet eet en versadig word, sodat die Here jou God jou kan seën in al die werk van jou hand wat jy doen.