Deuteronómium 12:7-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En daar moet julle voor die aangesig van die Here julle God eet en vrolik wees, julle en jul huisgesinne, oor alles waar julle jul hand aan slaan, waarin die Here jou God jou geseën het.

8. Julle moet nie doen net soos ons vandag hier doen nie — elkeen net maar wat reg is in sy eie oë.

9. Want julle het nog nie gekom in die rusplek en in die erfenis wat die Here jou God jou sal gee nie.

10. Maar julle sal deur die Jordaan trek en woon in die land wat die Here julle God julle laat erwe, en Hy sal julle rus gee van al julle vyande rondom, en julle sal veilig woon.

11. Dan moet julle na die plek wat die Here julle God sal uitkies om sy Naam daar te laat woon, alles bring wat ek julle beveel: julle brandoffers en julle slagoffers, julle tiendes en die offergawe van julle hand en al julle keurgelofte-offers wat julle die Here sal belowe.

12. En julle moet vrolik wees voor die aangesig van die Here julle God, julle en julle seuns en julle dogters en julle slawe en julle slavinne en die Leviet wat in julle poorte is, want hy het geen deel of erfenis saam met julle nie.

13. Neem jou in ag dat jy jou brandoffers nie bring op elke plek wat jy sien nie.

14. Maar op die plek wat die Here in een van jou stamme sal uitkies, daar moet jy jou brandoffers bring en daar alles doen wat ek jou beveel.

Deuteronómium 12